Geagte Inwoners van Cederberg Munisipaliteit
Ek groet u vanuit ‘n koel en nat Cederberg. Ons is baie bevoorreg om nog ‘n seisoen van winter te kan beleef en die streek in al sy prag.
Ek wil hiermee my opregte dank en waardering uitspreek teenoor elke inwoner van Cederberg, wie in hierdie moeilike tyd en onder moeilike omstandighede uself en familie veilig gehou het. Dankie dat u getrou u maskers gedra het, veilige sosiale afstande handhaaf het en al die nodige protokolle gevolg het om die verspreiding van Covid-19 te beperk.
Ongelukkig het hierdie virus weer toegeneem regoor die land en het President Ramaphosa die afgelope Sondag tydens sy familievergadering aangekondig dat die land weer op Vlak 4 inperkings geplaas sal word as gevolg van die geweldige stygings in positiewe gevalle.
Hoewel hierdie Vlak 4 inperkings waarskynlik baie negatiewe implikasies het vir besighede en toerisme, is hierdie inperkings baie noodsaaklik. In lyn met die Vlak 4 inperkings is die munisipaliteit ongelukkig ook genoodsaak om sekere maatreëls in plek te stel, wat ek as volg sal uiteensit:
• Munisipale personeel werk op rotasiebasis om die hoeveelheid mense op kantoor te beperk;
• Geen sport deur kodes of klubs wat nie aan ‘n erkende sportliggaam behoort, sal by munisipale sportgronde toegelaat word nie;
• Die munisipaliteit sal geen aansoeke om byeenkomste oorweeg of goedkeur gedurende hierdie tydperk totdat uitklaring vanaf die relevante owerhede ontvang word nie;
• Munisipale fasiliteite sal slegs beskikbaar gestel word vir aktiwiteite wat toegelaat word in terme van die Vlak 4 regulasies. ‘n Formele versoek in hierdie verband moet aan die munisipaliteit gerig word, elke versoek op meriete hanteer sal word.
Ek besef hierdie tye is moeilik vir almal, maar ongelukkig moet ons die veiligheid van ons gemeenskappe prioritiseer. Baie dankie vir u geduld en verdraagsaamheid. Ons sal weer met u kommunikeer na 11 Julie wanneer die Vlak 4 inperkings tot ‘n einde kom.
Vriendelike groete
Andries Titus
Waarnemende Munisipale Bestuurder
Last published 29 June 2021